Bloedvreemd deur Juliana Coetzer-‘n resensie

Bloedvreemd deur Juliana Coetzer

Boekresensie: Bloedvreemd deur Juliana Coetzer

Blurb: Tydens ’n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige breinskade wat haar verstandelike agteruitgang elke maand meer sigbaar maak. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou, gaan die gesin op ’n soektog na ’n wonderkuur. Alles word probeer, van alternatiewe behandelings en ’n vreemde dieet tot ’n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Soos die siekte toeneem, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar – haar kind, sy self en haar gesin. Juliana se pad na aanvaarding dwing haar uiteindelik om haar idee van ma-wees te heroorweeg. Bloedvreemd vertel die aangrypende verhaal van ’n ma se poging om haarself en haar gesin heel te hou en vrede te maak met ’n kind wat nou “in ’n ander vorm leef”.

My indrukke: Alhoewel die boek ‘n ware verhaal is, het dit vir my gelees soos ‘n riller. My simpatie vir wat die hele familie moes deurgaan, het geen einde nie. Ek was op ‘n stadium oortuig dat die skrywer se huwelik nie die tragedie gaan deurstaan nie. Gelukkig was ek verkeerd. Die openhartigheid waarmee die skrywer die verhaal vertel, is verbysterend, en ek is seker die lesers het steeds nie ‘n idee van die regte gebeure en gevoelens nie. Hoe hulle staande bly, gaan my verstand tebowe.

Daar was oomblikke waar ek letterlik hardop gelag het, soos toe sy vir Fanus gryp in die kerk en hom vertel dat hy moet seker maak sy val nie. Sy wil nie haar naam met ‘n plank slaan voor al die mense nie. Dis so eg menslik dat ek nie kon help om te lag nie. Maar vir die meerderheid van die boek was ek regtig na aan trane, en toe ek laataand gisteraand die boek klaar lees, het ek gevoel asof ek vuisvoos en emosioneel uitgemergel is. Dit gaan my ‘n wyle neem om die boek te verwerk.

Nietemin is dit een boek wat sy volle vyf sterre verdien. Ek het hom nie in een sitting gelees nie (een van my kriteria vir ‘n vyfster toekenning). Ek kon ook nie wag om hom verder te lees nie. Nee, ek het eerder uitgestel en bietjies vir bietjies in die smart en tragedie myself begewe. Oor laasgenoemde kry die boek ‘n vyfster instede van ‘n vier. Die boek was vir my so ontstellend dat ek nie met gemak weer die boek kon optel nie. Ek het hom eerder in ‘n Jellytot-pakkie gelees (ek het asma en enigiets meer as drie jellytots lei tot ‘n aanval). Ek het net genoeg gelees om myself te beskerm teen ‘n psigiese asma-aanval.

Gisteraand, toe besluit ek, ek het nou lank genoeg oor die storie gehuiwer en getalm. Dit is ‘n briljante boek, een wat altyd by my sal spook.

Vyf sterre.