’n Dieper Kyk na Onder Water deur Henda Olivier ‘n lesersindruk
Boek gelees en gereview deur Wanda Hartzenberg vir BluJeans Books.
Lees meer oor haar ander boek hier.
’n Dieper Kyk na Onder Water deur Henda Olivier
Daar is min boeke wat werklik daarin slaag om diep, rou temas op so ’n ontstellende wyse aan te bied dat dit by die leser bly spook. Onder Water deur Henda Olivier is een van daardie boeke – nie ’n maklike lees nie, maar wel ’n “page-turner” wat die leser dwing om deur die ongemak te worstel.
Hierdie roman het vir my ’n nuwe perspektief op die idee van “grooming” gegee. Dit verken die donker aspekte van menslike interaksies wat ek, as gevolg van my beroep, tot ’n mate reeds geken het, maar nog nie deur die lens van hierdie spesifieke verhaal gesien het nie. Die roman herinner ons dat sulke manipulasie dikwels subtiel begin, onder die dekmantel van vertroue en aanvaarding, voordat dit in volskaalse uitbuiting ontaard. Hierdie realistiese uitbeelding van seksuele misbruik en die voorstadium van grooming het my ontnugter en terselfdertyd geïnspireer om verder daaroor na te dink.
Met Bekka, die hoofkarakter, kon ek egter nie heeltemal identifiseer nie. Haar manier om deur die lewe te beweeg met ’n soort naïewe, “eyes wide shut” houding, het my ietwat gefrustreer. Hoewel ek verstaan dat sy in baie opsigte dalk ’n generiese karakter is om die breë tematiese veld te dek, het haar hardkoppigheid my soms aan my hare laat pluk. Dit was moeilik om met haar reis na heelheid en herstel te vereenselwig, aangesien haar ontkenning en weerstand teen selfontdekking haar dalk minder realisties laat voel het.
Wat Olivier wel hier goed regkry, is om ’n verhaal te skep wat lesers opnuut bewus maak van hoe gereeld hierdie tipe trauma plaasvind en hoe veelkantig die impak daarvan op mense se lewens is. Die pa-karakter se dood en die effek daarvan op Bekka is die dryfkrag van haar lewe, en die roman ondersoek die dinamika van verlies en hoe dit mense kan verpletter, selfs lank nadat die oorspronklike gebeurtenis verby is.
Hoewel die verhaal Bekka se persoonlike genesingsproses aanspreek, was dit dalk wenslik om die skrywer se blik op haar ma se helingsproses verder uitgebrei te sien. Daardie deel van die storielyn het vinnig gevorder en kon dalk nog diepte bygekry het, maar dít neem niks weg van die impak van die boek nie.
Die balans tussen die ligte en donker kante van lewe is iets waarin Olivier blink, soos gesien in haar vorige werk, Die Goeie Suster. Die humor en dramatiese oomblikke wat daardie boek gekenmerk het, het my aan die karakter Mila geheg en die storie net soveel aangenamer gemaak. Onder Water het egter ’n meer ernstige en introspektiewe toon, wat die boek vir my tot drie sterre bring. Vir enigeen wat dieper wil delf in moeilike temas met realistiese en ongepoetste vertellings, bied Olivier se Onder Water ’n ervaring wat nie ligtelik vergeet sal word nie.