Dina Botha skryf ‘n romanza wat werklik herinner aan onvergeetlike liefde.

Lesersindruk deur Wanda Hartzenberg vir BluJeans Books

Bestel jou kopie vanaf BluJeans Books of Lapa direk. Lees meer hier.

Review vir BluJeans Books

Resensie: Onvergeetlike liefde deur Dina Botha

Onvergeetlike liefde is ’n besonderse lekker lees vir hierdie genre, en ek sal dit beslis aanbeveel. Beide die hoofkarakters, Mariette en Hannes, toon merkbare groei deur die storie, wat die leser se aandag hou sonder dat hulle ooit pateties oor kom. Hul reis van hoërskoolliefdes tot die komplekse volwassenes wat hulle geword het, is boeiend en bevredigend.

Die verhaal volg Mariette en Hannes, wat mekaar se eerste liefdes was op skool. Kort ná matriek stuur Mariette egter vir Hannes ’n kort, onverklaarde afsêboodskap en stap weg van hul verhouding. Twaalf jaar later kruis hul paaie weer. Hannes is nou Hank Grey, ’n bekende Hollywood-ster, terwyl Mariette ’n agentskap bestuur wat lyfwagte en beskerming aan BBP’s bied. Wanneer Hank tydens die verfilming van sy nuwe rolprent deur ’n bekruiper geteiken word, wend hy hom tot Mariette se agentskap vir beskerming. Terwyl hulle nou weer saamwerk, begin die vlamme van hul vergete liefde weer brand. Maar wat het destyds veroorsaak dat Mariette so skielik weggestap het? En sal Hank haar liefde weer kan wen?

Met slegs 148 bladsye is hierdie boek ’n vinnige, maar diepgaande leeservaring. Dina Botha slaag daarin om ’n storie van verlore en hervonde liefde te weef, met karakters wat aanklank vind en ’n intrige wat jou laat aanhou lees. As jy in die bui is vir ’n romanse wat emosionele diepte en ware karakterontwikkeling balanseer, is Onvergeetlike liefde beslis die moeite werd om te lees.