Soekmekaar deur Dana Snyman

Boekresensie deur Karen N Brits

Soekmekaar by Dana Snyman | Goodreads

Soekmekaar deur Dana Snyman

Soekmekaar by Dana Snyman | Goodreads

“Ek voel nie meer geborge in my huis op Jacobsbaai nie. Miskien suig ‘n huis se mure en dak jou verdriet en verwildering op nes ‘n spons water opsuig. My huis treur saam met my. Oor Anette se weggaan. Oor ou sekerhede wat onsekerhede geword het. My huis soek lig. Ek soek lig. Ek moet die binneland in …” In hierdie boek vertel Dana Snyman van begrafnisse, troues en ‘n skoolreünie, van sy ma en Katrina en van die Bogosi-familie wat ook sy familie word; stories van hoe ons oor grense heen na mekaar probeer uitreik. Hoe ons mekaar soek maar nie altyd vind nie.

Dana Snyman vertel van ‘n verskeidenheid plekke in Suidelike Afrika: sy grootwordjare in Danielskuil en Grootfontein in Namibie, koshuisjare op Modimolle en Ventersdorp, waar sy pa AWB-kapelaan was.

Die gebeure rondom sy geboorte in Stellenbosch herroep hy via ‘n plakboek en skryf aangrypend dat sy pa wat ‘n Vrystaatse passer-en-draaier was, Grieks en Hebreeus studeer het om ‘n NG-predikant te word.

Verskeie kunstenaars word in die bundel belig: Karel (Ntate) Schoeman se laaste dae en dood uit die oogpunt van Jemina Meko, Willem Pretorius wat foto’s neem om die verval in Suid-Afrika te dokumenteer, en Walter Meyer, ‘n skilder wat as ‘n hedendaagse Van Gogh bestempel is en in 2017 vermoor is.

My gunstelingstorie is oor Dana Snyman se besoek aan die Louis Trichardt-monument en gedenktuin wat in Avenida Josina Machel in Maputo gelee is.

“Soekmekaar is ‘n bundel stories oor hoe ons na mekaar probeer uitreik, maar nie altyd vind nie,” in die skrywer se eie woorde.