Resensie van Murasie – Chanette Paul

Resensie gedoen deur Hantie Hartzenberg

Murasie by Chanette Paul | Goodreads

Murasie

 

Moles is nie ongekend op Verlatenfontein nie. Moord ook nie. Inteendeel.

Die Strandveld loop dik van die stories. Veral stories oor Verlatenfontein en die tyd toe die Brewisse daar gebly het. Oor Bert Brewis en sy humeur en oor sy beeldskone Engelse vrou. Ook oor hulle twee dogters – die oudste te vaal om hubaar te wees, die jongste ’n bottende skoonheid. En oor die woede wat so sterk deur die gene van hierdie luisterryke, vooraanstaande familie loop.

Ras Erasmus ken feitlik elkeen van hierdie Verlatenfontein-stories soos oorvertel deur sy ouma Kate. Op haar doodsbed laat sy hom drie beloftes aflê. Die kans doen hom voor om hierdie beloftes na te kom toe hy ’n kwotasie moet uitwerk vir die restourasie van die opstal op Verlatenfontein nadat dit vir die vierde keer in honderd en twintig jaar net halfpad afbrand – raaiselagtig genoeg, telkens op ’n betekenisvolle datum.

Maar hy het nie rekening gehou daarmee dat daar ’n huurpag op ’n gedeelte van die plaas bestaan nie. Die huurpag is duur gekoop – nie soseer met geld nie, maar met ’n veel duurder kommoditeit. Eers toe Georgie Rabie Verlatenfontein toe moet vlug ná ’n twiet wat haar baie suur bekom het, hoor sy wat die ware storie is agter die huurpag wat haar peetma hou. ’n Huurpag waaragter Ras Erasmus aan is, en nie net hy nie.

 
 
Wat het ek gedink van die boek:
 
“Raait” 
Ek het die paasnaweek die boek uit my liefste vrou se hande uitgewring en dit begin lees. Ja, ek is nie n Chanette fan nie. En nee, my vroulief was nie vreeslik kwaad toe ek die boek begin het nie. Die teendeel is eintlik waar maar shhhuuut. Lol. Nietemin het ek die boek gelees. 
Ek erken vandag ruiterlik aan julle, Chanette het my gevang. Dis n ‘done deal’. Daar is geen omdraai kans nie.
Goed nou die boek. Die boek gaan oor intriges, spoke, geskiedenis, so ‘n klein bietjie romanse en natuurlik die see. Sy het dit reg gekry om alles wat ek oor mal is, saam te gooi tussen twee buiteblaaie en n storie te maak daarvan. Dit speel af in 2 tydgleuwe en op ‘n kol was ek bang dat sy die boek gaan opneuk omdat daar te veel intriges bykom. Julle, daar is ‘n rede hoekom sy ‘n meester is in skrywe. Sy het al die toutjies bymekaar vasgehou en my tot op die laaste bladsy laat wonder.
Ek gee nie maklik 5 sterre vir n boek nie. Daar is hekkies en hoepels en so voorts wat die storie moet deurgaan voor ek my 5 ster neersit.
 
Chanette Paul, ek vermoed jy het dalk ‘n nuwe fan bygekry. ‘n Volle 5 ster vir jou. Die storie was waaragtig uitstekend.