Liefdesparadys deur Madeleine Malherbe

‘n Lesersindruk deur Karen Brits gelees en geskryf vir BluJeans Books.

Lesersindruk van Liefdesparadys deur Madeleine Malherbe

Liefdesparadys deur Madeleine Malherbe

Amelia is nie ‘n vloskoppie wat hartgebroke sit en wag vir haar ridder nie, maar ‘n jong
prokureur wat ryk geërf het, toevlug vir ‘n ou universiteitsvriendin bied én omgewingsbewus is.
Sy weet wat sy wil hê: ‘n manlike stapmaat sodat sy veilig in die natuurreservaat kan gaan stap.
Sy skryf daarom ‘n briefie wat sy onder die ruitveër van ‘n mede-natuurliefhebber se motor
indruk. ‘n Interessante ontmoeting volg tussen Amelia en Tino Pantani, ‘n Afrikaanse Italianer.
‘n Paar misverstande volg en selfs ‘n bietjie drama toe Amelia ‘n kliënt van vandalisasie
beskuldig en daadwerklik die natuurreservaat moet red. Gelukkig weerhou die skryfster haar
van die eindelose gekyf tussen die manlike en vroulike protagoniste. Selfs die goue Labrador,
De Leeuw, speel ‘n rol. Die storie vloei maklik en geloofwaardig, omdat mens die karakters leer
ken.

Soos altyd in Madeleine Malherbe se romansas is die milieu ‘n karakter in die verhaal:
verfrissend om van ander plekke te lees. Voorwaar ‘n ondergewaardeerde skryfster!