Lesersindruk van Bloedvreemd
Boek gelees en review geskryf vir BluJeans Books deur Karen Brits
Review van Bloedvreemd
Bloedvreemd deur Juliana Coetzer
“Aangrypend, ontroerend, inspirerend,” het Marita van der Vyver van dié boek gesê. Voorwaar.
Dis ‘n poging om te probeer sin maak van ‘n ondenkbare situasie: ‘n onbekende virus
het die skryfster se dogter aangetas. Erge epilepsie het breinskade veroorsaak en nadat alle
moontlike behandelings uitgeput is, moes die gesin vrede maak dat die eens pragtige,
lewendige, koppige, dapper 7-jarige nou tot vyf toevalle per dag kry, wekelank daarna slaap of
psigoties is. Skaars ‘n skadu van haar ouself het oorgebly: sy is steeds koppig, maar erg
versteurd en gestremd.
Die hele gesin se verlies en verwerking daarvan word eerlik en in detail beskryf, veral
omdat Juliana self ‘n traumaberader geword het.
Dit ruk mens aan die hart dat sy skryf: Mense wat ‘n terapeut besoek, wil nie weet die
terapeut het probleme nie.
Die laaste hoofstuk gee ‘n paar riglyne om trauma te verwerk: uit ‘n praktiese én
teoretiese oogpunt. Soos sy skryf: “Those who know, don’t tell, and those who tell, don’t know.”
Dis ontstellend, maar glad nie sensasioneel nie. ‘n Waardige toevoeging tot die trauma
literatuur.